Ons krag lê in samewerking: ’n leierskapspan wat as eenheid funksioneer; toegewyde personeellede wat hul roeping uitleef en ouers wat sáám bou aan ’n sterk gemeenskap.
Ons Wouwtjies blink jaar na jaar uit op akademiese-, sport- en kulturele vlak, maar ons kultuur lê in méér as prestasie. Dit leef in die alledaagse: in respek tussen onderwyser en kind; in die uitleef van ons waardes en in die spesiale oomblikke wat ons as gemeenskap deel.
Dít is die gees wat wouwtjies uniek maak.
Laerskool Anton van Wouw maak al vir meer as ’n eeu ’n
verskil in ons kinders se lewens en in ons gemeenskap.
Ons fondasie is vas, ons waardes is sterk en ons kyk vorentoe –
om sáám ’n toekoms van trots en uitnemendheid vir elke Wouwtjie te bou.
OP NÓG ‘N 100 JAAR! KOM KUIER GERUS!
By Laerskool Anton van Wouw glo ons in ’n balans van sterk akademie, diep waardes en ’n gemeenskapsgees wat kinders vir die lewe vorm.
Vir meer as ‘n eeu doen ons doelbewus dinge anders – met geloof, tradisie en trots as ons fondament.
By Laerskool Anton van Wouw doen ons al vir byna 100 jaar dinge anders. Sedert die skool se ontstaan is dit ons roeping om vir elke leerder ’n sterk, gebalanseerde akademiese grondslag te bied, sodat hulle eendag hul eie lewensverhaal van betekenis en sukses kan skryf. Ons fokus is eenvoudig: om kinders toe te rus met die kennis, vaardighede en denkvermoë wat hul wêreld oopsluit – in die klaskamer, in die werksplek en in die lewe.
By Anton van Wouw weet ons dat ware onderwys méér is as punte, rapporte en eksamens. Waardes, tradisie en kultuur vorm die weefsel van ons daaglikse lewe. Respek, verantwoordelikheid, volharding en saamstaan is nie net woorde nie; dit is gewoontes wat ons bewustelik in ons kinders se harte inbou. Ons vier ons ryk geskiedenis – die stories, simbole en gebruike wat oor geslagte opgebou is, omdat dit aan elke Wouwtjie ’n gevoel van behoort, trots en identiteit gee.
Die belangrikste pilaar van ons identiteit is egter ons geloof. Alles wat ons doen, staan onder God se leiding. Hy is die middelpunt van ons besluitneming, ons verhoudings en ons drome vir die toekoms. Ons wens vir elke leerder is dat hulle God se hand in hul lewe sal raaksien, hul gawes met nederigheid sal uitleef en met ’n diep sin vir betekenis en doel deur die wêreld sal stap.
In ’n wêreld wat vinnig verander, waar tegnologie, inligting en nuwe uitdagings deel van die alledaagse is, help ons leerders om aanpasbaar, kreatief en krities te dink. By Anton van Wouw neem ons die wysheid en stabiliteit van die afgelope 100 jaar, verbind dit met die eise en moontlikhede van vandag, en bou doelbewus aan ’n toekoms waarin elke leerder met selfvertroue hul plek kan inneem.
In vennootskap met ouers en die gemeenskap berei ons ons kinders voor om betekenisvolle bydraes te maak – nie net vandag nie, maar ook vir die volgende 100 jaar en verder.
Welkom by Laerskool Anton van Wouw: waar ’n trotse verlede, ’n lewendige hede en ’n hoopvolle toekoms deel vorm van elke leerder se storie.
Me. Odette Klopper
Skoolhoof
Laerskool Anton van Wouw